Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Lotosland" A.G. VISSER
"Lotosland" A.G. VISSER [boodskap #9465] Do, 22 Mei 1997 00:00
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
LOTOSLAND
A.G.VISSER

1. Exodus
Die osse stap aan deur die stowwe:
- Nie die osse van Jan F. Celliers,
maar rooi Afrikaners en Mowwe
van die voorste voortrekker, Naude.

Die waens van Celliers was dit ook nie,
Want oom Neelsie se wa bly weer staan;
Praat nooit van die sukkel en spook nie,
En daar voor kom die Kaffers al aan.

Had Moses dit swaar met Gods ou Volk,
O laat staan nie vir Pieter Naude;
Mismoedige Neelsies en Rouvolk
Het vir hom ook grys hare gegee.

Maar wanneer wis Pieter nie raad nie?
En vir watter gevaar sou hy stuit?
Hy word nie vervaard, ook nie kwaad nie!
Maar al bars dit hy beur tog bo-uit!

So trek hul al verder en verder
En gesels as die kampvure brand;
Piet luister en skrik, - want O Herder!
Almal droom van 'n Luilekkerland!

2 Kanaan, O Kanaan!
En werklik na vele gevare
Land hul aan in 'n skone vallei;
Geen roofdiere daar of barbare:
" Span maar uit, want die trek is verby!"

Ja hier is die Land der Belofte
En die spruitjie is hulle Jordaan;
Elkeen sweer 'n dure belofte,
Nooit weer t'rug na Egipte te gaan.

Die bergstrome glinster en klater
En kom skuimend bergaf na die grond,
Wat vrugte is groei langs die water,
Ryp en soet dat dit smelt in die mond.

Die koedoes kom skuur teen die waens,
Die swartwitpens drink melk uit 'n bak,
Die blou-wildebeeste kom saens
Na die laer op hul dooie gemak.

Die bruinvolk rook deur-'n-bank dagga
In 'n salige niksdoen en droom;
Oom Bart se Klein Bart ry 'n kwagga
Sommer bloots sonder halter of toom.

Die rooibokke wei by die tente,
Net so mak soos die bok van 'n wa:
'n Landstreek van Leipoldtse lente
Waar geen lewenslas hinder of pla.

Die grond hoef hul net maar te kielie
Vir Malherbe se lande vol graan;
Of Jona se eersteprys-mielie
Trou bewaak deur 'n mak bobbejaan.

3 Adipositas Praecox
Die trekkers word dikker en vetter
In die Luilekkerland in die kloof,
Tot skraal Piet Verster word gesetter,-
'n Profeet van die lekker geloof!

Geen naat wat nog hou aan 'n baadjie,
Verantwoordelikste knope spring af,
Ou maer Jan de Jaer kry 'n vaatjie; -
Tot die hond is te lui om te blaf.

Die rietskraalste nooi word al plomper
En die vrouens versit meer geen tree,
Beweging word gaandeweg lomper;
"Wat te erg is, 's te erg", sê Naude.

4 Naude loquitur
"'n Vyand bedreig ons, O Broeders,
En 'n vyand op wie ons moet let;
Te glad sit jul tawwerts, O Moeders,
Trekkerswee is per slot trekkersvet!

Veel beter om eind'loos te swerwe,
Teen gevare ons man weer te staan,
As hier in gemak te verderwe
En in smorende vet te vergaan!

Veel voorspoed word later 'n ketting,
En 'n dwing'land die luie gemak;
Te gronde gaan ons deur vervetting;
More trek ons van hier sak en pak!"

5. Vox Populi....
"Die voorstel," sê Koos van der Merwe,
"Sal ek graag sekondeer, Kommandant!" -
"As julle twee lus het vir swerwe,
Goed - maar ons bly in Luilekkerland."

"Hoor! Hoor!" roep nou al die ou rondes,
"Wie 't dan sinnigheid nou weer te trek?
Solank as die vet maar gesond is."
En so bly hulle sit op die plek.

Die aand nog het Koos van der Merwe
En Naude die ou vet-span verlaat;
Hul bene na swoege en swerwe
Is alweer van normale formaat.

Maar hoe dit met die ander gesteld is
Dit weet Nugter. 'n Rondloper-Ier
Beweer dat hul almal gesmelt is
En derhalwe die naam Vet-rivier!

6, Haec fabella docet:
Kyk kinders en nou kom die kwessie,
Wat 'n mens uit die storie moet leer:
Vergeet, nommer een, nooit die les nie,
Vet of maer, om jul ouers te eer!

Of mense al gekskeer of hoe maak,
Praat die waarheid rondborstig prontuit;
Onthou dat jul deure moet toemaak
En vergeet nie jul neuse te snuit!

(gepos deur 'n uitgeputte gloudina bouwer)
Vorige onderwerp: "ek wag in my hart" deur BREYTEN BREYTENBACH
Volgende onderwerp: "Weer in die Ark" deur TOTIUS
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Mei 11 12:06:01 MGT 2024